Clover maak kreatiewe deure oop
Die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees neem Potchefstroom jaarliks oor. Dié jaar is daar besluit om studente meer betrokke te maak, aangesien hul die hartklop van die dorp is.
Die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees neem Potchefstroom jaarliks oor. Dié jaar is daar besluit om studente meer betrokke te maak, aangesien hul die hartklop van die dorp is
Om in te skakel by die ‘Klop-Klop’ tema van die jaar, het Clover, die naamborg van die fees, ’n kompetisie aangebied waarin studente ’n deur moes ontwerp. Meer as 600 inskrywings is ontvang. Vyf finaliste is gekies wat op Saterdag 22 September hul ontwerpe vasgelê het op ’n regte deur by die Mooirivier-winkelsentrum. Clover wou ’n student se lewe Soveel Beter te maak deur die wenner met die nuutste tegnologie, ’n blinknuwe iPad en iPhone, te beloon.
Die vyf finaliste het al die items en toerusting ontvang om die deure in kunswerke te omskep. Daar was sekere reëls en die Clover-logo moes deel vorm van die ontwerp.
Stephan Pretorius, die wenner, is aangewys op 1 Oktober by die Kunssafari en het trots met sy Apple-slimfoon en -tablet weggestap.
Die vyf kunswerke is uitgestal in die winkelsentrum totdat die fees afgeskop het, waarna dit by die kunstefees vertoon is. Na afloop van die fees is die vyf deure geskenk aan die Abraham Kriel Kinderhuis. Hopelik sal dit kleur en baie vreugde verskaf aan die kinders van die tehuis.
Volgens Dr. Chris Lerm, Uitvoerende Bestuurder: Handelsmerk en Bemarking by Clover, het Clover die kompetisie geloods om ’n verskil te maak in die lewens van die kinders van Abraham Kriel Kinderhuis, en om studente die geleentheid te gee om ’n prys ter waarde van R10 000 te wen.
“Ons besef dat studente al hoe meer afhanklik raak van tegnologie en het dus besluit om ’n geleentheid te skep om hul studies Soveel Beter te maak. Die deure simboliseer ook vir studente dat hulle geleenthede (deure) moet raaksien en aangryp. As naamborg van die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees, voel ons dit is ons plig om iets positiefs vir die Potchefstroom-gemeenskap te doen. Hiermee bereik ons studente sowel as kinders.”
Hartlik geluk aan Stephan en die ander finaliste – mag julle kreatiwiteit net van krag tot krag gaan in die toekoms!